Saturday, May 18, 2013

Werp jou skulpe op die see

Streel die rug van die rots en
voel hoe sy stories jou vingers kielie.
Moenie lag nie, luister.

Luister na hoe die langafstand-gesprekke
stotter deur gekonnekteerde lug,
soos die snikke van vaag-bekende begrafnisgangers,
op hierdie snikhete dag.

In die steriele kamer van die leƫ stad le my lyf langs stories wat ek hoor, maar nie verstaan nie.

Dis die kaalte van die vlaktes en
die ongenaakbare son wat my verdruk.
Die aandwind bring nuwe asem en nuwe stories.

Luister na die fluisterstemme in die skulpe. Fluister terug; as jy nou moet.

Onthou jy die gedigte van Breytenbach,
op bankies wat tuis sou lyk voor 'n kerk?
Die plankies is sedelik vasgetimmer en met 'n kuise blou tot onder die ken gekleu(r).
Ek is seker daardie blou moes baie boude se stories aanhoor.
Die boude sou die blou nooit vergeef,
as dit maar net kon praat.

Ek werp my skulpe op die see.

No comments:

Post a Comment