In die strale wat vroeg smôrens deur my venster kruip,
in die sonsakgebede wat blêr deur die stede van die woestein waarin ek woon,
in elke mislukte koffie,
tamatie en bokkaas toebroodjie
en time tydskrif,
in die flikkerende liggies op die horison
en in die tale van babel
en in vreemde oseane
en in die lagtrane van die kinders aanboord,
oral soek ek jou.
'n Mens is net 'n mens.
Maar ek hoef maar net my oë te sluit
en ek vind jou in ons berghuis met twee koppies tee,
ek vind jou op die stasie in pels en sigaretrook,
ek vind jou met jou rug teen 'n warm ruit,
ek vind op rotse waar die wind waai.
Jy loop saam met my in die strate van Barcelona,
Jy lag saam met my vir die straatkunstenaars in Dusseldorf,
Jy sit langs my op die trein in Bangkok,
Jy eet saam met my vars kersies in Londen,
Jy ry saam met my in die taxi in Dubai,
Jy slaap langs my in die meerpark in Hamburg,
Jy eet saam met my tapas in Madrid,
Jy praat saam met my Afrikaans in Nederland,
Jy swem saam met my in die blou poele van Mauritius.
Ek pak jou hart in my tas
tussen sagte katoen rokke
en kiekies van die kaap.
Jy is hier en ek is daar.
Jy loop altyd langs my, Sheilie.
Ek vergeet jou nooit nie,
want hoe vergeet mens 'n deel van jouself