Tien tone, tien vingers, maar net een hand... En liewe hemel dit gooi 'n mens se lewe om ver. Het jy geweet jy kan nie 'n roomyspapier oopmaak, of sout maal, of jou ma help dra, of jou hare was met net een hand nie? Ek het dit vandag uitgevind.
Sien, na 'n onvoorspelbare aand in Stellenbosch en drie dokters weet ek en my groen gipsie dat my pols gekraak is - ja, só eenvoudig, maar ook só lastig. Vandag in die spreekkamer deel die dokter hierdie wysheid met my (p.s. - Hy's nogal oud and you know what they say: met wysheid kom grysheid):
"Voor jy trou, kry eers vir jou arm of been in so gips en dan sal jy sien of daai boyfriend van jou die moeite werd is."
Nou ja Dokkie, ek is beslis nie van plan om binnekort te trou nie (indien ooit), maar as mens jou stukkie raad op sy kop draai klink hy selfs beter... kry vir jou 'n gips en jou geliefdes (familie, vriende, ens. - nie boyfriend nie, stupid!) sal sien of jý die moeite werd is. Gewigtig, ja ek weet, maar ek het tot hierdie besef gekom nadat ek op my ma geskróú het dat ek nie haar roomys kan oopmaak nie omdat my eie onbereikbaar in sy eie pakkie my lê en tart het, omdat ek nie kan bestuur met die vrotpoot nie, maar ek haar nie 'n kans wou gee om te help nie, omdat, omdat, omdat... (Ek verkies om op te hou om myself daaraan te herinner want 'n goeie nag se rus klink so aanloklik).
Bottom line - Jis, maar mens kan 'n poepol wees as jy geen middelvingers het om te wys nie - as jy moet vent raak dit moeilik om jou slagoffers te kies.
Oplossing: As jy weet, laat weet my, want as dinge so aanhou is ek een van die dae onterf (wat nogal kak sal wees).
Sing nou saam: Ek's baie baie lief vir Mammie!
...noem my GroenArm, die gegote